Die verbruiker se klagte

Om ’n geldige klagte te lê en onder die aandag van die betrokke verskaffer te bring, verg meer as wat op die oog af mag voorkom.

Om by die winkelier te kla oor die swak gehalte van suiker, sal niks oplewer nie, en daarom moet die klag direk gerig word tot die betrokke suiker nywerheid. In die meeste gevalle is daar ’n e-pos of ’n webblad adres, of ’n telefoniese nommer op die verpakking van die produk wat gebruik kan word.

In die afgelope vyf jaar het verbruikers se klagtes met 60% toegeneem, maar nie al die klagtes kry aandag nie omdat die klaer nie altyd die besonderhede verstrek wat benodig word nie.

Om ’n klagte onder die aandag van ’n vervaardiger, of verspreider te bring, is goeie kommunikasie uiters noodsaaklik.

’n E-pos bied die geleentheid om al die besonderhede te verstrek, soos wanneer die produk gekoop is, waar dit gekoop is, en die presiese produk moet volledig omskryf word – bv. 350 ml Koo ingelegde perskes in halwe skywe – keurgraad. Dit is wenslik om die datum van aankope sowel as die vervaldatum van die produk te meld.

Stel daarna die klagte op ’n vriendelik wyse – onthou dat e-pos maar redelik onpersoonlik is en daarom moet ’n woordkeuse gebruik word wat nie aanstoot sal gee nie.

Hier is ’n eenvoudige voorbeeld:

 

Geagte Bestuur van ABC-produkte

Ek is ’n gereelde verbruiker van u kookolie en is meestal volkome tevrede met die gehalte daarvan.

Ek ondervind egter dat die houers wat ek koop, nie altyd die hoeveelheid olie bevat wat op die etiket aangedui word nie.

Op 2 Junie het ek ‘n plastiese bottel 300 ml ABC-Sonneblomolie gekoop by Keerom Winkels in Boksburg waarvan die houer deeglik geseël was, maar toe ek die inhou afmeet, was daar slegs 280 ml.

Die vervaldatum op die etiket is 1 Desember 2023.

Ek het die inhoud ook met ’n tweede maathouer gemeet om seker te maak, en dieselfde resultaat gekry.

Ek is van oordeel dat u toestel waarskynlik nie onlangs versien is nie en wil aanbeveel dat dit nagegaan word.

Met waardering vir u aandag

 

Alhoewel nie al die verskaffers sal antwoord nie, kan u seker wees die meeste vervaardigers sal reageer, u bedank vir u bedagsaamheid en soms ook ’n koopkoepon stuur om te vergoed. Binne weke daarna is die houers duidelik vervang met bottels op die rak wat almal 300 ml bevat.