Baske eis onafhanklikheid van Spanje

Die regering van Spanje het kwalik die separatiste van Katalonië van hulle nek af toe spring die separatiste van Baskeland, in die noorde van die land, op die nuwe regering se rug.

In ’n menseketting van hande vat, het derduisende Baske in Baskeland ’n lang ry gevorm van 220 kilometer om hulle eis vir ’n referendum oor onafhanklikheid te beklemtoon.

Anders as die vryheidliewende Kataloniërs wat slegs kennis gegee het dat ’n referendum gehou gaan word, vra die Baske die reg om ’n referendum te hou om die Baskiese volk se gevoel te toets oor afskeiding van Spanje.

Die Baske het die afgelope naweek derduisende volksgenote in ’n handevat ketting laat staan om hulle erns te toon aan die nuwe regering van Spanje wat nou onder geweldige druk kom.

Die sosialistiese regering het verklaar dat hulle dialoog wil voer met Kataloniërs, en wil Spanje se grondwet wysig om ’n federale bestel te vestig, maar die konserwatiewe Volksparty is gekant teen die planne en bemoeilik die sosialiste se werke.

Die organiseerders, Gure Esku Dago (In ons eie hande) het hul tevredenheid uitgespreek met die dag se verrigtinge en gesê die Spaanse regering behoort ag te slaan op hulle billike versoek.