Zimbabwe wil terug na Statebond

Anders as Robert Mugabe wat gal gebraak het teen die Britse Statebond en uiteindelik Zimbabwe se lidmaatskap beëindig het, is die nuwe president, Emmerson Mnangagwa, in proses om weer aansoek te doen om lidmaatskap.

Hy het verteenwoordigers van die Britse Statebond uitgenooi om as waarnemers na Zimbabwe te kom om die komende algemene verkiesing te moniteer.

Kenners wys daarop dat dit ‘n algehele ommekeer is teenoor die omstrede beleidsrigtings wat Mugabe gevolg het, en kan die eerste stap na ekonomiese en demokratiese herstel wees.

Die president se aansoek kom na byna 15 jaar se afwesigheid, en die Statebond owerheid het bevestig dat die aansoek op 15 Mei in die vorm van ’n brief ontvang is.

Volgens die Statebond se sekretaris-generaal, Patricia Scotland, is die lidlande angstig om Zimbabwe terug te verwelkom wanneer die tyd geleë is.

Die Statebond woordvoerder het egter bygevoeg dat Zimbabwe die amptelike aansoekvorm moet invul waarna ’n besluit geneem sal word deur die lidlande.

Foto – President Emmerson Mnangagwa