Wêreld Nuusflitse – 15 Mei

Duitsland

’n Aantal waterbuffels wat ontsnap het, was die oorsaak van ’n nege-uur lange stilstand op die Duitse autobaan waar hulle verbouereerd saamgedrom het en op al twee rigtings moes die verkeer magteloos wag sodat die eienaars hulle kon verwyder.

 

Frankryk

Duisend kiesers het die afgeloop naweek in Parys geprotesteer en honderde plakkate gedra met slagspreuke soos “Macron, een jaar as president is genoeg”.

 

Indië

Ongekende stofstorms in die noorde van Indië, wat reeds etlike dae duur, het die lewens van minstens 120 mense geëis terwyl talle in hospitale opgeneem is vir behandeling van hulle longe.

 

Rusland

Honderde mense in Moskou het aan ’n optog deelgeneem om die vrye gebruik van die Internet te eis, en het plakkate met neerhalende opmerkings vertoon.

 

Iran

Iran het agt terroriste van die Islamitiese Staat tot die dood veroordeel en sal waarskynlik binnekort tereggestel word.

 

Georgië

In die Oos-Europese staat Georgië het duisende mense aan ’n optog deelgeneem en beswaar gemaak teen die polisie se optrede toe hulle toegeslaan het op verskeie nagklubs in die hoofstad, Tbilisi.