VF Plus en regering praat oor plaasmoord statistiek

Nadat die regering twee weke gelede na jarelange swye en herhaalde versoeke van die VF Plus besluit het om statistiek oor plaasmoorde uit te reik, het die minister van polisie, Bheki Cele, nou ook gesê hy is bereid om met die VF Plus gesprek te voer oor die aangeleentheid in ʼn poging om oplossings hiervoor te vind.

Dit was nadat dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, aan die minister gesê het dit is belangrik om gesprek oor plaasaanvalle te voer in ʼn poging om die statistiek te verfyn en om in besonder nader inligting te bekom oor die slagoffers van plaasaanvalle.

Dr. Groenewald het aan Cele gesê hy verwelkom sy besluit om syfers oor plaasmoorde wel beskikbaar te stel. Hy het gesê daar was die afgelope drie jaar ʼn toename in aanvalle, en dat dié soort misdaad net effektief bestry kan word indien daar behoorlike statistiek beskikbaar is.

Die polisie het nou vir die eerste keer gedoen wat die VF Plus al vir byna twee dekades bepleit, en dit is om ʼn kundige polisiekommissaris uit polisie-geledere aan te stel. Net so het Cele polisie-ervaring na ʼn paar jaar diens as kommissaris. Daar is dus nie meer ʼn verskoning om misdaad nie effektief te bestry nie, meen dr. Groenewald.