Ramaphosa rafel al verder uit

Die president van die land, Cyril Ramaphosa, het in die parlement aangekondig dat hy die beginsel steun van ‘n staatsbank. Dit is volgens hom ‘n resolusie van die ANC kongres en hy sluit dit nie uit dat die Banke Wet verander gaan word om voorsiening te maak vir ‘n staatsbank nie. Hy stel ook ‘n Agribank en “lokasie” banke en stokvel banke in die vooruitsig.

Volgens sy redenasie sal ‘n staatsbank die geldpoel van die land verbreed. Hy het nie genoem wie die banke gaan beheer en kontroleer nie, en waarnemers glo dit kan die staat self wees as deel van sy proses van sluipende sosialisme en bedekte nasionalisering, en dat dit gaan ontaard in ‘n bodemlose put waarin geldwassery, bedrog en diefstal kan floreer.

Ramaphosa het tydens sy antwoordsessie in die parlement ook sy diktatoriale kant gewys toe hy ‘n opposisielid toegesnou het: “I want you to shut up and listen!”  Hy het wel later sy woorde teruggetrek, maar ontleders sê dit openbaar ‘n deel van sy persoonlikheid wat hy tot dusver agter sy glimlag weggesteek het.