Prikkel: Lastering

Dit kan ook naamskending genoem word.  Dit kom neer op die aantasting van die goeie naam van ‘n persoon.  Hoe hoër die persoon se aansiens, hoe ernstiger die oortreding.

Nou het die hofuitspraak teen ‘n vrou wat drie jaar tronkstraf (effektief twee jaar) opgelê is omdat sy ‘n woord wat verbied is gebruik het in ‘n bepaalde omstandigheid, besondere perspektief op die saak gegee.  Die woord mag in geen omstandighede, ongeag die aansien van die persoon selfs genoem word nie.  Dit beteken dat almal betrokke, van onaantasbaar hoë aansien is.

Die betrokke saak en die hofuitspraak word nie beoordeel nie.  Maar dit kan nie anders nie as dat ons met siddering Jes. 52:5 lees:  “Maar nou, wat vind Ek hier?  Spreek die Here… en my Naam word gedurigdeur die hele dag gelaster”.

Hierdie uitspraak van die soewereine God in die hemel is direk op ons van toepassing.  Sy Naam word hier ook gedurigdeur, die hele dag gelaster.  Maar dit raak skynbaar niemand meer nie;  geen aanklag, geen hofsaak, geen uitspraak, volg daaruit nie.

Klagtes daaroor is in die verlede eenvoudig verdoesel.

Kan die mens homself so hoog verhef?  Kan die Humanisme (mensverheerliking) so diep inslaan?  Die 70% Christene in hierdie land (amptelike statistiek) behoort met skrik te lees “En nou, wat vind Ek hier?”.

Hendrik v.d. Wateren