Onteiening sonder vergoeding eenparig verwerp

dav

Onteiening sonder vergoeding word verwerp aangesien niemand grond gesteel het nie.

Dit was die noot waarop ‘n openbare vergadering in Warmbad, wat deur TLU SA se hoofbestuurder, mnr. Bennie van Zyl, toegespreek is, afgesluit het. Die goed bygewoonde vergadering het dié standpunt eenparig aanvaar.

TLU SA se streekvoorsitter in die noordelike provinsie, mnr. Henk van de Graaf, het mense gevra om hulle titelaktes, of gewaarmerkte afskrifte daarvan indien dit dalk by verbandhouers sou wees, te bekom, aangesien dit ‘n dokument is wat deur die staat uitgereik is, en waarin erken word dat die grond gekoop is. Dit kan waardevolle bewysstukke wees in moontlike sake wat kan voortspruit uit enige moontlike onteiening.

Mnr. van Zyl het in sy toespraak gesê dat gemeenskappe sal moet verenig en betrokke raak in enige moontlike aksie om die onteiening teen te staan. “As ons niks doen nie, is dit ‘n stilswyende kondonering daarvan,” het hy gewaarsku.

Mnr. van Zyl het ook gewaarsku teen mense wat verkondig dat die onteiening nie gaan plaasvind nie en dat die storm daaroor sal verbygaan. “Gaan lees die ANC se ‘Strategy and Tactics’ dokument. Daarin sê hulle wat hulle gaan doen, en hulle doen wat hulle sê hulle gaan doen.” Hy voorspel dat wanneer die staat enige bates gaan steel deur onteiening, die gevolge daarvan erger gaan wees as Zuma se staatskaping. “Kapitaal volg nie onsekerheid nie, en Ramaphosa het onsekerheid geskep met sy aankondiging van onteiening sonder vergoeding,” sê mnr. van Zyl.

Dit is nou meer as ooit tevore nodig dat gemeenskappe saamstaan en saamwerk, en sorg dat hulle ingelig is om ingeligte besluite te kan neem, sodat positiewe druk geplaas kan word. “Burgerlike wringkrag kan ‘n groot verskil maak,” sê mnr. Van Zyl.

Foto: Mnr. Bennie van Zyl aan die woord in Warmbad