Msimanga maak bollemakiesie

Nadat Solly Msimanga, die DA se burgemeester van Pretoria, op Donderdag 17 Mei 2018 verklaar het dat hy sal bedank as hy enige reëls verbreek het met die aanstelling van Marietha Aucamp, het hy haar versoek om te bedank en haar bedanking daarna aanvaar.

Sy erken dat sy nie ‘n tersiêre kwalifikasie het soos wat ‘n inligtingsblad aandui nie.

Dit blyk dat die “werk-vir-maaitjies” bewerings dalk waar kan wees aangesien Msimanga deel van die paneel was wat Aucamp aangestel het.

Een van die koalisievennote, VF Plus, is ook ontnugterd oor die feit dat Aucamp skynbaar onregmatig aangestel is.

Raadslid Awie Erasmus sê die VF Plus beskou hierdie aantygings as baie ernstig en glad nie in lyn met die koalisie-ooreenkoms nie, en gaan die saak met beide die Tshwane-burgermeester en die veelparty-koukus se voorsitter bespreek.

Foto: Msimanga en Aucamp