Majoor afgedank oor rassisme

Nadat die VF Plus verlede week met die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se begrotingsdebat in die parlement sy misnoeë te kennis gegee het oor die feit dat daar nie daadwerklik opgetree is teen ʼn majoor wat hom aan skokkende uitlatings op sosiale media skuldig gemaak het nie, is die majoor nou afgedank.

Die VF Plus het die aangeleentheid ook  voor die debat bespreek met die minister, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, om die offisier (Vincent Mohlala) se adres te bekom sodat ʼn dagvaarding op hom bedien kan word.

In die debat het die VF Plus Mohlala as voorbeeld gebruik en gesê dissipline in die weermag ly daaronder as dit nie streng toegepas word nie, en om iemand wat hom aan sulke uitlatings skuldig maak slegs oor die vingers te raps, ondermyn dissipline.

Mohlala, wat gestasioneer was by die Wonderboom militêre basis in Pretoria, het ná die moord op emeritusprofessor Cobus Naudé (76) onder meer gesê: “Nou is dit wit mense se beurt. Hulle moes eintlik sy oë en tong uitgesteek het sodat die laaste mense wat hy kon sien, sy moordenaars was…”.

Die VF beskou hierdie uitlatings as haatspraak, sê dié party se leier, dr. Pieter Groenewald.  Hy sê dit is baie ernstig veral oor die feit dat Mohlala ʼn lid van die weermag was en soldate geensins politieke uitsprake kan maak nie aangesien hul integriteit bo verdenking moet wees om alle mense in Suid-Afrika sonder vooroordeel te verdedig.