Hongaarse premier kap liberalisme

Die Europese Unie moet sy “nagmerries” oor ’n Verenigde State van Europa staak, sê die eerste minister van Hongarye in sy toespraak in die land se parlement.

Premier Viktor Orban is vir ’n vierde termyn as eerste minister van Hongarye ingehuldig na ’n skitterende oorwinning in die pas afgelope algemene verkiesing.

Orban sê in sy toespraak die era van ’n sogenaamde liberale demokrasie is verby en is in Hongarye vervang met ’n 21ste eeuse Christelike demokrasie wat waarborg bied vir die burgery se vryheid en sekuriteit.

Die toespraak in die Hongaarse hoofstad Boedapest is wyd deur Europa gestuur en het hernude entoesiasme gewek by ander nasionalistiese volke.

Hy sê die nuwe tydvak beteken dat die tradisionele gesin van een man met een vrou weer ingestel word om die vreemde gelowe weg te hou van die Hongaarse volk.

Die premier het daarop gewys dat Hongarye die Europese Unie nodig het, maar dat die EU ook sy land nodig het, en hy nie sal huiwer om kritiek teen die liggaam uit te spreek waar dit nodig is nie.

Die premier is staande toegejuig na afloop van die toespraak, en selfs lede van die opposisieparty het hande geklap.

Foto – Hongaarse Parlement