Hawai vulkaan in gevaarlikste fase

Kokende lawa vanuit die Kilauea vulkaan in Hawai wat tot 3 kilometer hoog die lug ingeblaas word en oor die vulkaan se wande spoel, het nou sy gevaarlikste fase betree terwyl waarskuwings uitgereik is dat die omgewing uiters gevaarlik is.

Digte rook en as massas het ’n vreesaanjaende gesig geword wat selfs die oudste inwoners tot paniek gedryf en uiteindelik, teen wil en dank, hulle woonplekke moes verlaat.

Deskundiges het die owerheid ingelig dat die vulkaniese uitbarstings nou die gevaarlikste fase kan betree en aanbeveel dat inwoners so vêr as moontlik moet padgee van die gebied, terwyl die dra van maskers noodsaaklik geword het.

Intussen het die warm lawa reeds sowat 50 woonhuise vernietig, en die moontlikheid bestaan dat veel meer woonplekke in die slag kan bly.

Die rookwolke is uiters gevaarlik omdat dit uit stukke warm lawa en as bestaan, en moet ten alle tye vermy word om nie ernstig beseer of gedood te word nie.

Meer as 2 000 werksgeleenthede het in die slag gebly en kenners raam dat die skade aan infrastruktuur reeds meer as $220 miljoen beloop terwyl die toeristebedryf ernstig benadeel word.