Eenheid?

1Kon. 12:24  So spreek die HERE: Julle mag nie optrek en teen julle broers, die kinders van Israel, oorlog voer nie; julle moet omdraai, elkeen na sy huis; want van My het hierdie saak gekom. Hulle het toe geluister na die woord van die HERE en weer teruggetrek volgens die woord van die HERE.

Hoe dieper die nood, hoe meer die oproepe tot eenheid! Vraag wat ons moet afvra is: Is ons volk se verskeurdheid die oorsaak van ons situasie? Baie sal redeneer dat dit inderdaad die oorsaak is. As daar eenheid was, of selfs net groter eenheid so verkiesings en referendums waarskynlik ander uitslae gehad het, word geredeneer.

As ons tog net kon uitvoer of leef soos die ou Transvaalse Republiek se leuse: Eendrag maak mag, sou ons nie nou in die ellende gesit het nie. Ander redeneer, ons is nou waar ons is, met eenheid is die enigste wyse hoe ons hier sal uitkom!

Só het koning Rehabeam ook geredeneer toe hy sy weermag opdrag gegee het om die tien stamme wat van sy gesag af weggebreek het te dwing tot eenheid. Behalwe ander oorwegings was die eenheid belangrik dat hy sy posisie in sy wêreld kon handhaaf.

Dan stuur God sy profeet Semaja om vir hom te sê hy mag nie! Hierdie verdeeldheid kom van God oor die sonde van jou vader Salomo. Hierdie verdeeldheid is die simptoom van jou verswakte posisie, nie die oorsaak nie. Die oorsaak is die Godloosheid wat sy pa ingevoer het.

Wanneer uit die Skrif beoordeel word wat in ons volk aangaan, hoe ons leef, hoe ons eintlik onsself aanbid (eiesinnigheid is afgodery.. 1Sam 15:23), hoe ongehoorsaam ons aan die Woord is, moet ook ons besef dat soos in Salomo se tyd gaan God nie toelaat dat ons maak wat ons wil en Hy sit asof Hy magteloos is nie. Ons het ‘n gelofte gemaak dat ons vir Hom ‘n Godshuishouding (volk) sal wees en ons doen nie.

Voor ons nie geloofseenheid voor Hom het nie sal geen mensgemaakte eenheid langer hou as die eerste uitdaging nie.

O Vader, vergewe tog ons eiesinnigheid! Laat ons tog ons tot U bekeer, soos Uself voorskryf en nie op ons eie voorskrifte nie. Vader ons staar uitwissing in die oog, red ons van onsself asseblief Vader. Laat dit tog U eer wees wat ons grootste prioriteit sal wees,  en nie in die eerste plek ons vryheid of redding nie!

AMEN