Damwal breek, duisende sonder wonings

Duisende Keniane is sonder woonplek nadat een van die land se grootste opgaardamme se wal meegegee het wat die dood van minstens 44 mense veroorsaak het.

Die openbare aanklaer het opdrag gegee dat ’n polisie ondersoek ingestel word om te bepaal wat die oorsaak van die damwal se swak plek is.

Van die media in Kenia beweer dat die dam aan ’n private eienaar behoort en dat dit etlike jare gelede onwettig opgerig is.

Benewens die 44 mense wat omgekom het, word sowat 50 ander vermis wat vermoedelik deur die watervloed meegesleur is.

Die vloedwater het swaar modder weggevoer en honderde hektaar landbougrond beskadig wat glo tot talle eise kan lei.