Weste bombardeer Sirië

Kenners meen al die elemente vir die begin van ’n wêreldoorlog is te vinde in die gebeure wat tans in Sirië waargeneem word, en die dreigemente van Rusland en Amerika bevorder die moontlikheid.

President Donald Trump het die week die asemhalings laat ophou toe hy gesê het Rusland moet op die uitkyk wees, want die Amerikaanse missiele sal reën op Sirië.

Hierop het Rusland se president, Vladimir Poetin, gereageer en gesê elke Amerikaanse missiel sal deur Rusland afgeweer word, en die lanserings basisse van Amerika sal verpletter word.

Die dreigement van Amerika kom kort nadat die land $4 500 miljard bestee het aan die oorlog in Irak en Afghanistan, en president Trump juis gedurende die presidentsverkiesing beloof het om ’n einde te maak aan oorloë wat miljarde dollar uit die skatkis neem.

Die beskuldiging teen Rusland dat hy betrokke is by die chemiese oorlogvoering teen Siriese rebelle, en die Assad-regering daarin ondersteun, het tot ’n nuwe internasionale krisis gelei wat enige oomblik kan ontplof om Wêreldoorlog Drie te begin.

Enkele dae nadat president Trump sy waarskuwing gerig het dat missiele afgevuur gaan word op Sirië, word sowat 100 missiele op drie teikens afgevuur deur Amerika, Frankryk en Brittanje.

Foto – President Donald Trump