VSA kanselleer vliegtuig bestelling

Die Amerikaanse weermag het ’n bestelling vir F-35 vegvliegtuie gekanselleer by Lockheed Martin nadat hulle nie ooreenkoms kon bereik oor wie verantwoordelik is vir herstelwerk nie.

Die inligting is glo verkry by anonieme bronne wat beweer dat die huidige lewering gestaak is weens die dispuut oor wie die koste van herstelwerk dra.

Die Amerikaanse weermag het vroeër vasgestel dat ’n ernstige produksiefout op gelewerde F-35 vliegtuie voorgekom het, en wil klaarblyklik nie weer in dieselfde slagyster trap nie.

In die lig van die onduidelikheid het die Pentagon besluit om die lewering van ’n nuwe bestelling met minstens een maand op te skort tot die verskil in mening opgelos is.

Die geskil kan eindig in ’n duur transaksie aangesien sowat 200 vliegtuie reeds gelewer is en moontlik ook die geïdentifiseerde produksiefout het.

’n Woordvoerder van die vervaardigers sê daar bestaan ’n kontraktuele verskil wat spoedig opgeklaar sal word.

Die F-35 gevegsvliegtuig word beskou as een van die wêreld se mees gevorderde tegnologiese oorlogstuig en word grootskaals deur die VSA se verdedigingsmag aangekoop.

Foto – Die F-35