Rusland misluk in VN vergadering

Rusland het ’n week van mislukkings ervaar en sal waarskynlik nuut dink om sy nederlae te verwerk nadat drie Westerse lande hulle gesamentlike slaankrag getoon het met ’n aanval op Siriese teikens.

Rusland het die aanval as ’n daad van aggressie bestempel en ’n vergadering aangevra van die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies nadat Amerika, Frankryk en Brittanje drie teikens in Sirië verwoes het.

Die Veiligheidsraad het Saterdag byeengekom waartydens Rusland ’n mosie ingedien het om die aanval in Sirië te veroordeel, maar sy mosie is verwerp toe slegs twee ander lande hom gesteun het.

Moskou het nie net die Veiligheidsraad se verwerping van sy mosie gehad nie, maar moes ook aanhoor dat die Veiligheidsraad sy kommer uitspreek oor die gebruik van chemiese wapens teen die opponente van die diktator, president Assad.

Rusland se waarskuwing dat hy elke missiel sal afskiet wat op Sirië afgevuur word, het ook klaaglik misluk, want van die 102 missiele wat deur Amerika, Frankryk en Brittanje gedurende Vrydagnag afgevuur is, kon Rusland slegs 12 afskiet.