Polisie statistiek en die nuwe SA

Nuutste polisie statistiek toon ‘n bleek prentjie van die reënboognasie.

Speurders (ondersoekende beamptes) het in die afgelope jaar 781 800 verdagtes ondersoek uit ‘n getal van 2,15 miljoen aangemelde sake.  Rakende misdaad teen vroue, is daar slegs 150 000 van die 205 800 sake ondersoek.

Die verslag erken dat SAPD dikwels weier om sake wat aangemeld word, te registreer wat beteken dat geen dossier oopgemaak word nie.

In ander gevalle word ernstige klagtes na ‘n mindere klag verander, soos wanneer verkragting aangeteken word as seksuele aanranding, en aanranding eerder as poging tot moord.

Dit maak die vrygestelde statistiek totaal onbetroubaar, en is die rede waarom Jan Publiek steeds minder vertroue plaas op die polisie om sy veiligheid te verseker, of om behoorlik aandag te gee aan die opsporing van misdadigers.

Wat egter wel deeglik aandag kry, is BBP se beskerming. Hiervoor is R1,5 miljard spandeer om regeringsamptenare en goedere te beskerm.

Mikpunte wat vir die polisie gestel word wissel van 37% tot 65%, dus word daar verwag van ‘n ondersoek beampte om ongeveer die helfte van die sake wat hy ondersoek op te los of aan te spreek.