Plaasaanval veroordeel

Die VF Plus veroordeel die grusame aanval op mnr. Mike Bonnette, ‘n plaasboer van Chrissiesfontein in die Midvaal-distrik, sê mnr. Kobus Hoffman, raadslid van die Sedibeng munisipale raad.

Die slagoffer is ‘n boer wat onder andere op eie koste ‘n skool vir  plaaslike minder bevoorregte kinders laat bou het en heelwat opheffingswerk onder die gemeenskap gedoen het.

“Dit is uiters betreurenswaardig dat juis so ‘n gemeenskapsaktivis en bydraer van liefdadigheid die teiken van sulke lafhartige dade geword het. Dit is ‘n duidelike teken dat niks en niemand meer ontsien word nie,” sê mnr. Hoffman.

“Dit is net ‘n wonderwerk dat mnr. Bonnette die aanval oorleef het. Die VF Plus wens hom  ‘n spoedige herstel toe.

“Hierdie lafhartige daad word direk toegeskryf aan die openbare aanhitsing tot geweld, haatspraak en rassehaat deur veral politici,” sê mnr. Hoffman.