Motorrubriek – Range Rover Velar D240 HSE

Wanneer die sportnuts motormark onder die loep geneem word is daar ‘n wye keuse van voertuie beskikbaar. Die Range Rover verkeer baie hoog op die lys van gewilde voertuie en waar dit ook al beweeg, dit word opgemerk.

Die nuutste Velar D240 se kragbron is ‘n vier silinder diesel eenheid wat turbo aangejaag is en alhoewel daar nie verwag kan word dat dit dieselfde werkverrigting moet verskaf as die V6 model nie, stel dit nie teleur nie. 500 Nm is beskikbaar vanaf 1500 o.p.m. en die krag is 177 kW by 4000 o.p.m. Die bekende “gekletter” van ‘n diesel kragbron is bykans nie waarneembaar nie want die Ingenium kragbron wat deel vorm van Jaguar se reeks van diesel enjins wat ook in sommige van die motors gepas is, is in hierdie motor gepas. Die krag oorbrenging na al vier wiele vind plaas by wyse van ‘n agtspoed outomatiese ratkas en die oorskakeling tussen die ratte word seepglad gedoen. Dit is bykans nie moontlik om die oorskakeling waar te neem nie. Brandstofverbruik volgens die vervaardiger is 5,8 l/100 km en met die brandstofhouer vol kan ‘n afstand van nagenoeg 940 km. bereik word.

Die HSE spesifikasies vertel ‘n storie van sy eie. Dit beteken daar is LED hoofligte gepas, die sitplekke het 20 verskillende verstellings en dit is oorgetrek met geperforeerde Windsor leer, ‘n 825 watt radio verskaf die musiek, digitale instrumente is in plek reg voor die bestuurder en ‘n lugversorger sorg dat insittendes met gemak die langpad kan aanpak. Binne maklike bereikbare afstand is die aanraakskerm in die middel van die instrument paneel gemonteer en die stuurwiel waarop verskeie skakelaars aangebring is, pas gemaklik in die hande van die bestuurder.

Uiteraard is die bakwerk stewig maar dit deel goed met swak padoppervlak en slaggate is bykans nie waarneembaar nie. Teen ‘n bedrag van R18000 kan ‘n lugkussing suspensie gepas word wat die rygerief dan verder verbeter en swak padoppervlakte is nie meer ‘n faktor nie. Voor is ‘n onafhanklike, dubbel wensbeen veerstelsel gepas en agter is ‘n onafhanklike veerstelsel met ‘n anti-rol staaf gemonteer. Die wiele is 20 duim allooi wielnawe waarop 255/50 Pirelli Scorpion bande gepas is en die noodwiel is dieselfde en word agter in die voertuig in die vloer geberg.

Buite-afwerking is van hoogstaande gehalte en teen ‘n bykomende R12200 kan die agterligte vervang word met ligte wat ‘n mat swart afwerking het. Aan gerief binne in die voertuig, is daar nie ‘n tekort nie. Soos reeds geskryf het die sitplekke 20 verskillende verstellings en ‘n gerieflike sitposisie kan maklik ingeneem word en daar is genoeg plek vir selfs mense met “lang” bene.

Die veiligheidsaspek is nie agterweë gelaat nie en voor en agter is 325 mm geventileerde skyfremme gepas met ABS, EBD en EBA ondersteuning om te verseker dat die voertuig met gemak en veiligheid tot stilstand gebring kan word. Verskeie lugsakke is binne in die voertuig gepas om te verseker dat beserings tot die minimum beperk word wanneer daar byvoorbeeld in ‘n botsing betrokke is.

Hierdie is ‘n motor vir die fynproewer en is ewe gemaklik op die snelweg as op ruwe terrein en wanneer ‘n sportnuts voertuig aangeskaf moet word, kan u dit gerus op u inkopielys plaas.