Gerieflike afleiers vir werklikhede

Daar was die laaste twee weke darem heerlike gerieflike nuusafleiers wat deur die naïewe media aangegryp is, en waardeur bepaalde ander belangrike nuus in die agtergrond gebly het.

Eers was dit die knoeiery met die bal tydens die kriekettoets tussen Suid-Afrika en Australië, en kort daarna gevolg deur Winnie Mandela se dood.

In beide gevalle het die media die sake holrug gery, tot lank nadat die nuuswaardigheid daarvan verval het.

Wat betref die balknoeiery is daar egter aan een aspek geen aandag gegee nie.

Die krieket waarvan hier sprake was, is lankal geen sport meer nie. Dit is ‘n hoogs betalende beroep. Wanneer daar dus knoeiery plaasvind, sou dit in enige ander werksplek as bedrog beskryf gewees het, en sou die amptenaar (net soos beroep sportlui amptenare van hulle spanne is) summier geskors gewees het, verhoor gewees het en afgedank gewees het. Boonop sou hy ook strafregtelik aangekla gewees het van bedrog en moontlik daarvoor tronkstraf opgelê gewees het.

Wanneer dit by die heilige sport kom, geld ander reëls, en is daar ‘n skorsing van ‘n paar maande of ‘n jaar ter sprake, en ‘n wedstryd se salaris word verbeurd verklaar. Verder is daar geen straf nie.

Al wat die Suid-Afrikaanse publiek gehoor het, is die (teregte) verguising van die Australiese krieket bedrieërs, en moes op elke nuus en aktualiteitsprogram gekyk of geluister word na die krokodiltrane van die bedrieërs. Maar hulle het uiters lig daarvan afgekom, in teenstelling met enige ander beroep in die wêreld, net omdat dit kwansuis sport is.

Wat Winnie Mandela betref, het die hele mediaspektrum sy bes gedoen om haar as “Moeder van die nasie” voor te stel, was daar weer Afrikaanse akademici wat by wyse van spreke op die grond rondgekruip het uit skuldgevoel omdat hulle Winnie “nie verstaan” het nie, en dit gebruik het om die oud-terroris se lof te besing.

Waar daar terloops verwys is na haar revolusionêre verlede, is dit blitsig hanteer om tog geen werklike en saakmakende aandag daarop te vestig nie. Skielik is sy selfs vanuit sekere Afrikaanse kringe as semi-heilige beskryf, terwyl sy in Nelson Mandela se kabinet misluk het as adjunkminister, en sy so ‘n onmoontlike mens was dat selfs Nelson haar eenkant toe geskuif het en haar geskei het.

Ons sal nie meedoen aan hierdie valse verheerliking nie en sal haar altyd bly sien vir wat sy was: ‘n rassis wat witmense dikwels openlik gehaat het, en wat geen simpatie vir die Afrikaner gehad het nie. Sy het ons haar vyand gemaak, en daarom het sy as ons vyand gesterf.

Maar dit was heerlik vir die media om daarop te fokus, soos ook nou op Jacob Zuma se hofverskyning, sodat die sakevertroue indeks sommer so saggies verby gegaan het in die nuusgebeure. Daarvolgens het die sakevertroue weer begin daal, na die kortstondige oplewing nadat Ramaphosa die staatshoof geword het. Ramaphosa se wittebrood is verby, en steeds meer mense begin deur hom sien en besef dat hy nie die messias is wat hulle gehoop het hy sou wees nie.

Nou kan ons net hoop dat daardie realiteit ook by sy juigkommando, die media, sal uitkom een of ander tyd.