Gebruik Britte se geld so

President Cyril Ramaphosa behoort Brittanje se skenking van R858 miljoen aan Suid-Afrika aan te wend om kwessies wat die Suid-Afrikaanse ekonomie kniehalter, te behandel, sê mnr. Wouter Wessels, VF Plus se woordvoerder oor finansies.

Suid-Afrika sal slegs vir die buiteland aanloklik wees wanneer die regering ‘n klimaat skep wat beleggingsekerheid en ekonomiese groei stimuleer.

Dienslewering, veiligheid en sekuriteit, effektiewe finansiële bestuur en infrastruktuur instandhouding en ontwikkeling is belangrike aspekte wat die buiteland in ag neem word wanneer beleggingsmoontlikhede oorweeg word.

“Daarom is dit belangrik dat die president eers Suid-Afrika se ekonomie en regeringsfunksies in orde kry sodat buitelandse vertroue versterk word,” sê mnr. Wessels.

Die VF Plus is van mening dat Brittanje se skenking aangewend moet word vir:

Landelike beveiliging (R200 miljoen)

Tans is landelike beveiliging ‘n sosio-ekonomiese hoofpyn vir Suid-Afrika met plaasaanvalle en misdaad wat buite beheer is.

Die VF Plus veg lank reeds daarvoor dat plaasaanvalle as ‘n prioriteitsmisdaad verklaar moet word. Met dié beskikbare fondse kan die minister van polisie ‘n spesialis eenheid op die been bring wat spesifiek op landelike beveiliging moet fokus.

Met die beskikbare fondse vir landelike beveiliging sal die regering sy kosmandjie beskerm deur ‘n veilige klimaat te skep waarin produsente voedselsekerheid kan meebring.

Eskom (R150 miljoen)

Hoewel die privatisering van Eskom met gesonde finansiële bestuur, met die doel om as ‘n winsgedrewe maatskappy te funksioneer, belangrik is in die groei van Suid-Afrika se ekonomie, is die huidige stand van sake in die elektrisiteitsvoorsiener ‘n bron van kommer.

Geld behoort beskikbaar gestel te word om die Eskom uit sy finansiële verknorsing te red weens die belangrikheid van elektrisiteit vir die ekonomie en samelewing.

Die geld behoort egter slegs aan Eskom beskikbaar gestel word om infrastruktuur op te knap.  Dit mag nie aangewend word om bonusse en verhogings aan amptenare te betaal nie.

Waterrade (R150 miljoen)

Munisipaliteite se skuld aan waterrade beloop tans R11 miljard rand. Dit is egter belangrik dat munisipaliteite funksioneer as entiteite van die staat wat minder afhanklik is van nasionale fondse en hul eie inkomste genereer en bestuur.

Geld kan wel aan die departement beskikbaar gestel word om die waterrade se verliese te help delg, met die verstandhouding dat dit aangewend word om bestaande infrastruktuur op te knap sodat veral lekkasies meer effektief herstel kan word.

Dit bly egter belangrik dat skuldinvorderingsmeganismes by waterrade en munisipaliteite in plek gestel word deur die aanstelling van kundige amptenare.

Hoër onderwys (R200 miljoen)

Suid-Afrika bestee tans baie geld om studente in die buiteland op te lei.

Die regering behoort eerder te fokus op die ontwikkeling en uitbreiding van programme en kurrikula wat studente plaaslik oplei.

Dié fondse behoort aangewend te word vir die opleiding van studente wat op grond van meriete gekeur word, met die verstandhouding dat hul kundigheid in Suid-Afrika gebruik sal word.

Transnet-pensioenfonds (R100 miljoen)

Om die ekonomie te stimuleer kan die president geld wat Transnet-pensioenarisse toekom uitbetaal.

Met die huidige stand van sake in die pensioenfonds, wat jare lange bydraers effektief te nagekom het, is dit net billik dat die regering hierdie mense vergoed deur die bedrag beskikbaar te stel.

Dit sal die ekonomie versterk deur die pensioenarisse groter finansiële onafhanklikheid te gee.

Die fondse mag egter nie gebruik word vir salarisse en bonusse aan amptenare nie, maar vir die uitsluitlike doel om verligting aan pensionarisse te bring, stel mnr. Wessels voor.

Foto: Mnr. Wouter Wessels