Die Koue Oorlog het hervat

Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Antonio Guterres, het die afgelope naweek in die Veiligheidsraad met sy openingsrede begin met die sombere woorde dat die Koue Oorlog terug is, maar hierdie keer in ’n erger vorm.

Hy het beklemtoon dat die meganisme en waarborg van vroeër om die toename in spanning voorkom, nie meer bestaan of gerespekteer word nie.

Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies het byeen gekom op versoek van Rusland na die missiel aanvalle op Siriese teikens deur Amerika, Frankryk en Brittanje wat as vergelding uitgevoer is teen die Assad regime wat chemiese wapens teen rebellemagte gebruik het.

Tydens die sitting het die Russiese ambassadeur in die VN, Vasily Nebenzia, beskuldigings gerig tot Amerika en gesê die VSA het chemiese wapens as voorwendsel gebruik om die regering van president Assad omvêr te gooi en Rusland in sy greep te hou.

Hy sê dit is nog nie bewys dat chemiese wapens teen die rebelle gebruik is in die omgewing van Douma nie en die inligting wat die VSA kry, is afkomstig van die Siriese rebelle.

Die Amerikaanse ambassadeur in die VN, Nikky Haley, het in reaksie daarop gesê afdoende bewyse is gevind en daarom moes daar op ’n bepaalde oomblik iets gedoen word om die chemiese aanvalle te stop.

Foto – Antonio Guterres