Vlaamse studente wys op plaasmoorde

Studente van die Nasionalistiese Studentevereniging (NSV) in Vlaandere, hou more ‘n stille protesoptrede teen Suid-Afrikaanse plaasmoorde in die Vlaamse stad Gent.

Dit volg op ‘n kongres van die Vlaams Belang Jongeren, die jeugbeweging van Vlaams Belang, waartydens die media ook deeglik kennis geneem het van die plaasmoorde in Suid-Afrika.

TLU SA het in die verlede reeds verskeie kere in Brussel met parlementslede van die Europese Unie vergader oor die plaasmoorde, en ook met Vlaams Belang se leierskorps vergader oor die probleem.

Dr. Pieter Groenewald van VF Plus gaan die protes in Gent bywoon, en hy gaan ook in Brussel die organisasie UNPO (Unrepresented Nations & Peoples Organization) sal toespreek oor die ANC-regering se voorneme van onteiening sonder vergoeding.

Dit vorm deel van ʼn deurlopende aksie van die VF Plus om die internasionale gemeenskap oor vergrype in Suid-Afrika in te lig, en is in besonder ook deel van die VF Plus se aksieplan wat aan die begin van vandeesmaand bekend gestel is om die regering se planne om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, stop te sit.