Valke slaan toe op Premier se kantoor

Die Valke het bevestig dat hul die kantore van die Noordwes premier “besoek” het. Die ondersoek het te doen met  bewerings rondom bedrog en korrupsie.

Sekere dokumente word gesoek in die verband.

Vroeër die maand is inligting gelek dat betalings van meer as R200 miljoen gemaak is aan ‘n IT firma, Nepo Data Dynamics. Die bron van die gelekte dokumente word tans  deur die departement ondersoek.

Michal Groenewald van VF Plus sê die skynbare strenger optrede deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Valke met betrekking tot ondersoeke en optrede teen korrupsie en bedrog in die staatsdiens word heelhartig deur die VF Plus verwelkom, so ook die klopjag op die kantore van die premier van Noordwes, mnr. Supra Mahumapelo.

Mnr. Groenewald sê dit is onaanvaarbaar dat staatskoffers gestroop word en belastingbetalers se geld langer gesteel word deur blatante tenderbedrog en korrupsie.  Sekere diensverskaffers buit die staat al vir die afgelope 24 jaar onder die ANC-regering se bewind uit.

Noodsaaklike fondse vir infrastruktuurontwikkeling en die verbetering van die mense van Noordwes se lewens word aan kaders deur middel van frontmaatskappye uitbetaal.  Die feit dat die hoogste leierskap in die provinsie hierby geïmpliseer word, is ‘n skande en die regerende party behoort hom te skaam.

Foto: Supra Mahumapelo