Theresa May se plan met EU

In die vierde “groot” toespraak van die Europese Unie blyk dit dat die toekomstige onderhandelinge tussen die Britse eerste minister en die EU met stampe en stote sal vorder.

Premier Theresa May van Brittanje, wat reeds onder groot druk verkeer onder haar eie mense om ’n aanvaarbare ooreenkoms met die EU aan te gaan, het tydens haar jongste toespraak die besef gebring dat alles nie maanskyn en rose gaan wees met die Verenigde Koninkryk se uittrede as lid van die EU nie.

Premier May het gewaarsku dat toetrede tot die Europese markte nie maklik sal wees vir die Britte nie, maar spreek die hoop uit dat die EU vatbaar sal wees om ’n unieke vennootskap aan te gaan met die Verenigde Koninkryk.

Sy het veral klem gelê op die feit dat ’n unieke ooreenkoms noodsaaklik is vir beide partye, omdat dit vir almal se voordeel sal wees.

Politieke ontleders sê die Britse premier se jongste toespraak was die beste van al haar geleenthede en was ’n realistiese benadering van hoe sy dit wil benader.

Kenners sê die premier is besig om te midde van uiters moeilike omstandighede, ’n uiters bekwame en voortreflike leier te word wat in dieselfde liga is as die wêreldberoemde ystervrou, Margaret Thatcher.

Foto – Premier Theresa May