Skors leerling wat onderwyser aanrand

Die sosiale media het gegons oor ‘n video wat die rondte gedoen het waaruit dit duidelik blyk dat swart leerlinge ‘n blanke onderwyseres aanrand, en waar die arrogante leerling deur haar klasmaats aangemoedig en ondersteun word. Uit die video blyk dit duidelik dat die onderwyseres uit die klas moes vlug.

Die voorval is later verbind aan die Drie Riviere Hoërskool in Vereeniging.

Die VF Plus het met skok en afgryse kennis geneem van die aanranding, en eis die onmiddellike skorsing van die leerling.

In ‘n verklaring sê VF Plus dat hierdie insident dien as konkrete bewys dat die onverantwoordelike uitsprake van politici en die aanhitsing van rassehaat, geweld en verdeeldheid, uiters gevaarlike is en diep verdeeldheid onder leerlinge teweeg bring.

“In Suid Afrika, waar politieke leiers Afrikaners gereeld die skuld gee vir al hul mislukkings en tekortkominge, is een van die gevolge die verval van die onderwysstelsel waar feitlik geen of min dissipline gehandhaaf word.

“Die feit dat onderwysers se regte toenemend ingeperk en weggeneem word, plaas nie net onderwysers se lewens in gevaar nie, maar gee ook leerders ‘n vrye hand om ongedissiplineerd en oproerig in skole op te tree,” sê VF Plus.