Saoedi koop vier dosyn vegvliegtuie

Saoedi Arabië se kroonprins het met sy besoek aan die Verenigde Koninkryk, ’n amptelike besoek gebring in Downingstraat 10, waar hy ’n kooptransaksie beklink het vir 48 vegvliegtuie .

Menseregte organisasies het sonder huiwering hul hewige kritiek uitgespreek en gesê dit is nie regverdigbaar nie aangesien die Saoedi regering hul eie mense se regte gruwelik skend en in besonder ook die land se optrede teenoor Jemen.

Brittanje het verlede Vrydag die finale koopkontrak ter waarde van miljarde dollar onderteken vir die lewering van 48 Eurofighter vegvliegtuie.

Die Britse minister van verdediging, Gavin Williamson, het gesê die besoek van die kroonprins en die ooreenkoms vir die lewering van 48 Eurofighter Typhoon vliegtuie het ’n nuwe hoofstuk in die jarelange verhouding tussen die twee state ingelei.

Hy het bygevoeg dat die aankoop van soveel vliegtuie ’n verbetering in die veiligheid en sekuriteit teweeg sal bring in die Midde Ooste.

Toe Duitsland vroeër geweier het om vegvliegtuie aan Saoedi te lewer, het die kroonprins gesê dit is nie vir hom ’n probleem nie, want hy sal dit wel elders gekoop kry.