Noord-Korea sal kernprogram stop

Swaar sanksies deur die VSA, en behoorlike monitering van moontlike handel met Noord-Korea het die land sodanig geknou dat sy leier, Kim Jong-Un, besluit het om met Amerika in gesprek te tree.

Die eerste tree van toenadering het gekom met die afvaardiging van die kommunistiese regime na die Winterspele in Suid-Korea, waartydens ’n oppervlakkige vriendskap tussen die twee lande begin is.

Alhoewel die kommunistiese leier ingestem het tot dialoog, het politieke meningsvormers gemaan dat Kim Jong-Un nie altyd eerlik is nie, en dikwels sy ondernemings verbreek het.

President Donald Trump van Amerika het in reaksie op Kim se instemming tot gesprek, gesê Amerika sal nie die sanksies ophef voordat Noord-Korea finaal afstand gedoen het van sy omstrede kernwapen program, sowel as sy missiel ontwikkeling nie.

Waarnemers meen die Koreaanse leier ondervind waarskynlik geweldige druk weens die ernstige ekonomiese implikasies van die sanksies.

Foto – Kim Jong-Un en president Trump