Motorrubriek – Nissan 370Z

 

Sedert 1969, toe die 240Z sy verskyning gemaak het, was hierdie motor nog altyd een van my persoonlike gunstelinge. In 2009 is dit verander en het die 370Z reeks sy verskyning gemaak.

Hoekom dit een van my persoonlike gunstelinge is, is omdat die bestuurder nog self die ratte per hand kan wissel. Ja, ‘n outomatiese ratkas het sy voordele maar dit is darem lekker om self die ratte te wissel deurmiddel van die “ratkierie” wat soos ‘n “vuis op ‘n oog” in die linkerhand se handpalm pas.

Die nuutste Nissan 370Z is opgegradeer en een van die veranderings is die metaal deurhandvatsel waarmee die deure oopgemaak word, die ligte se lense wat verdof is en nuwe 19 duim Rays Engineering allooi wielnawe.

Aan die binnekant is daar nie veel verander nie. Die stuurwiel se reikafstand kan nog steeds nie verstel word nie en skakelaars vir verskeie funksies is binne maklike bereik. Die instrumente is reg voor die bestuurder gemonteer met die toereteller in die middel en die spoedmeter aan die regterkant. Daar is instrumente wat die olie temperatuur en batteryspanning aandui en die rooilyn op die toereteller begin by 7500 o.p.m. Die aanraakskerm is in die middel van die instrumentpaneel gemonteer en verskeie funksies is daarop beskikbaar.

Die sesspoed handratkas reageer seepglad wanneer die ratkas gebruik word. ‘n Semi-ren Exedy koppelaar plaat sorg dat die krag oorbrenging tussen die enjin en ratkas foutloos plaasvind. Wanneer eerste rat gekies word, die toere word so effe opgejaag, die koppelaar word uitgelaat en die beheerstelsel is afgeskakel word daar swart strepe op die pad agtergelaat. Volgens toetse wat uitgevoer is, neem die versnelling van 0 tot 100 km/u, slegs 5,91 sekondes en die topsnelheid is 250 km/u.

Die 3.69 liter V6 kragbron stel 245 kW beskikbaar teen 7000 o.p.m. en die wringkrag is 363 Nm teen 5200 o.p.m. Die brandstofverbruik is 12,6 liter/100 km en die brandstofhouer neem 72 liter brandstof. M.a.w. as die regter voet so bietjie aan die “swaar” kant is moet daar taamlik gereeld brandstof ingegooi word.

Die remvermoë is van hoogstaande gehalte en volgens toetse uitgevoer neem dit slegs 2,8 sekondes om van 100 km/u, tot stilstand te kom. Voor word daar gebruik gemaak van 355 mm remskywe en agter is daar 350 mm remskywe gepas met ABS remstelsel en EBD en EBA ondersteuning.

Padgedrag is van hoogstaande gehalte en soos in die verlede, is die Z nog steeds ‘n motor om mee rekening te hou. Op die snelweg kom dit werklik tot sy volle reg en wanneer die pad begin kronkel soos in berge wêreld, kan dit werklik geniet word.

Hierdie motor bly nog steeds ‘n motor vir die fynproewer en u kan dit gerus neem vir ‘n toetsrit maar maak seker dat u by die verkeersreëls bly want dit kan jou maklik in die moeilikheid laat beland.