Kan Front Nasionaal Macron oorwin?

Terwyl die Franse president Emmanuel Macron se gewildheid steeds daal, word kiesers gedwing om weer te kyk na die moontlikheid of Marine Le Pen se Front Nasionaal nie dalk die oplossings bied nie.

Front Nasionaal het die afgelope naweek sy jaarlikse kongres gehou met die oog op volgende jaar se Europese verkiesings, maar daar bestaan twyfel oor Marine Le Pen se vermoë om die verkiesing te wen.

Die Front Nasionaal en Marine Le Pen het die afgelope jaar van die radarskerm verdwyn, wat nou talle vrae ontlok oor die wenslikheid om die party en veral die partyleier langer te steun.

Front Nasionaal het as grootste politieke opposisie uit die vorige verkiesing getree, maar kon nie daarin slaag om met dinamiese krag vorentoe te beur en standpunte te stel wat kiesers beïndruk nie.

Instede daarvan het die party en sy leier, Marine Le Pen, stil geword en is nêrens gesien en gehoor nie, wat vele vrae laat ontstaan oor haar leierskap eienskappe.

Die 34% stemme wat Front Nasionaal getrek het, is nou teleurgesteld met die leier wat stil geraak het terwyl talle beleidsrigtings wat deur president Macron gevolg word, onaanvaarbaar is.

Teen die einde van die konferensie is Marine Le Pen eenparig herkies as leier van die party wat ook ’n naamsverandering ondergaan het met die goedkeuring van die afgevaardigdes.

Voortaan sal die party bekendstaan as Rassemblement  Nasionaal, maar die party se beleid en standpunte bly onveranderd.

Foto – Marion Marechal-Le Pen