Grondhonger gaan nie oor landbou

TLU SA het met kommer kennis geneem dat die gesag van president Cyril Ramaphosa openlik en georganiseerd uitgedaag is met die grondbesettings in Gauteng die afgelope naweek.

Mnr. Louis Meintjes, president van TLU SA sê hierdie aksie was ooglopend georganiseer nadat pres. Ramaphosa die belofte gegee het dat geen grondbesettings geduld gaan word nie. “Wat verder hoogs verontrustend is, is dat mnr. Ramaphosa se eie amptenare wat deel is van wetstoepassingsagentskappe, hom in wese ondermyn het deur in talle gevalle te weier om op te tree teen die onwettige besetters.”

Verder wys mnr. Meintjes daarop dat die grondbesetters ontevrede is omdat hulle geen grond vir behuising het nie. “Hulle wil dus nie boer en kos produseer nie, maar wil net meer menswaardige huisvesting hê. Dit is nie ‘n probleem vir landbou nie, en daarom moet die regering dit met plaaslike owerhede opneem, in plaas daarvan om boere te dreig om hulle grond te onteien sonder vergoeding. Plaaslike owerhede het baie grond tot hulle beskikking waarop menswaardige huisvesting opgerig kan word, sonder om die reeds skaars landbougrond daarvoor te wil gebruik,” sê mnr. Meintjes.