Grondberaad lok sterk kritiek uit

Nadat TLU SA besluit het om ‘n sogenaamde grondberaad te boikot omdat mense buite die landbou wil besluit oor boere se grond, het verskeie instansies hulle daarby aangesluit.

Mnr. Louis Meintjes, president van TLU SA, het vroeër die week die Studiegroep vir Eietydse Geskiedenis (Sege) toegespreek en TLU SA se standpunt daar gestel, waarna hy groot ondersteuning gekry het.

Sege het hom ook van die grondberaad, waarvan die mislukte onderhandelaar van 1993, Roelf Meyer, betrokke is, gedistansieer en ‘n beroep op ander Afrikaner-instellings gedoen om hulle insgelyks daarvan te distansieer.

Die HNP het daarop in ‘n verklaring gesê dit is skokkend dat niemand die Afrikaner en die blanke boere by die nasionale grondberaad wat by die Gordon Instituut gehou word, verteenwoordig nie.

Mnr. Louis van der Schyff, hoofsekretaris van die HNP, wys daarop dat die doel van die beraad is om sleutel rolspelers bymekaar te bring sodat die publiek se mening gevorm kan word oor hoe die grondwet gewysig moet word.

Die deelnemers by die beraad sluit onder andere adv. Tembeka Ngcukaitobi (skrywer van die boek The Land is Ours), Kgalema Motlanthe, regter Dikgang Moseneke, Albie Sachs en die sg. grondhervormings akademici Ruth Hall en Ben Cousins, asook mnr. Roelf Meyer, dr. Theuns Eloff (FW de Klerk Stigting) en Dan Kriek van Agri SA in. Kriek is reeds op rekord dat hy gesê het “dat hy graag ’n volhoubare oplossing vir grondhervorming met die beraad wil deel”.

Mnr. van der Schyff sê daar is geen verteenwoordiger van hoof rolspelers wat die onteiening van eiendom sonder vergoeding teenstaan nie.   “Mnr. Meyer is een van die hoof rolspelers wat die beraad reël. Dit voorspel vir die Afrikaner en die blanke boer niks goeds nie.  Meyer se oorgawe by Kodesa waar hy, Leon Wessels en ander reeds die hele Suid-Afrika aan die ANC weggegee het, is bekend.  Niemand by die beraad, veral nie mnr. Roelf Meyer nie, verteenwoordig die Blanke en die Afrikaner nie. Die Afrikaner en die blanke eienaars het geensins die geleentheid gekry om verteenwoordigers aan te wys nie.

“Dat die uitslag van die beraad eensydig en onsimpatiek teenoor die Afrikanervolk sal wees, is reeds ’n voldonge feit. Soos by Kodesa is dit maar net nog ’n rookskerm om aan die kommuniste se doelstellings te voldoen en ook die blanke grondbesit weg te gee,” sê mnr. Van der Schyff.

Van die ander deelnemers aan die beraad, sluit in Gwede Mantashe, deesdae ‘n minister in Ramaphosa se kabinet, en Jeremy Cronin, grootkop van die kommuniste party.

Foto: Mnr. Louis van der Schyff