Zuma hou land gyselaar

President Jacob Zuma kan nie die ANC en die hele Suid-Afrika gyselaar hou deur daarop aan te dring dat sy regskostes betaal word en hy moontlike vrywaring teen vervolging kry nie, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald sê Cyril Ramaphosa, president van die ANC, is tans besig om sy magsgreep op die ANC te verloor en hy het ʼn gulde geleentheid laat verbygaan toe ʼn vergadering van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) die afgelope Woensdag afgestel is.

Volgens dr. Groenewald doen die uitgerekte onderhandelinge oor pres. Zuma se vertrek as president van die land tans meer skade aan die ekonomie as die verwydering van Zuma self.

“Dit skep onsekerheid en beleggers begin hulself die vraag afvra of Ramaphosa werklik beheer het oor die ANC en veral oor die Zuma-faksie.

“Die ANC sal nou beslissend moet optree en indien Zuma nie wil bedank nie, moet die ANC self dadelik ʼn mosie van wantroue teen hom indien by die nasionale vergadering en moet die party die EFF oorreed om sy mosie te onttrek aangesien ʼn mosie van wantroue in Zuma na my mening net sal slaag indien die ANC dit indien.

“Die ANC is nie by magte om namens belastingbetalers toekomstige regskoste aan Zuma goed te keur nie en nog minder om vrywaring teen vervolging te verleen aangesien dit die taak is van die nasionale vervolgingsgesag.

“Sou die ANC sulke ondernemings gee, sal dit die Grondwet en demokrasie van Suid-Afrika ondermyn,” sê dr. Groenewald.

Intussen doen gerugte die rondte dat Zuma dalk as staatsgetuie gebruik sal word in bepaalde sake en dat hy onderhandel vir uitgebreide pensioenvoordele.