VSA bevestig Suid-Korea bondgenootskap

Die Verenigde State saam met Suid-Korea en Japan is en bly op dieselfde lyn van ’n stewige bondgenootskap om Noord-Korea te laat afsien van sy kernwapen ontwikkelingsprogram.

Die drie lande is dit eens met mekaar oor die volle omvang van die probleme met Noord-Korea om oplossings te vind deur diplomatieke kanale.

Dit is die boodskap van die Amerikaanse visepresident, Mike Pence, tydens sy besoek aan die Suid-Koreaanse hoofstad waar die Olimpiese Winterspele tans plaasvind.

Pence sê die drie lande is dit ook eens dat diplomatieke, sowel as ekonomiese sanksies toegepas sal word solank as wat Noord-Korea weier om af te sien van sy kernwapen ontwikkeling projek.

Die Amerikaanse visepresident het die opmerkings teenoor die media gemaak kort nadat dit bekend geword het dat die kommunistiese leier ’n uitnodiging gerig het tot Suid-Korea se president Moon om die Noorde te besoek.

Die deelname van Noord-Korea aan die Winterspele word gesien as ’n metode om aansluiting te vind met die suidelike buurland met die doel om verligting te probeer beding vir die swaar sanksies wat die noordelike staat knel.

Foto – Visepresident Mike Pence