Toetse vir oorlewing op Mars begin

Ruimtepakke is aangetrek, vreemde behuising is opgerig, die onherbergsaamheid van ’n kaal sandwoestyn en vreemde toerusting is deel van die toetse wat uitgevoer word om die lewe op Mars moontlik te maak.

Navorsers van die Oostenrykse Ruimtevaart Forum het begin met ’n drie weke sending na Mars in die barre woestyn van Oman.

Die bedoeling is om met die oefening antwoorde te vind op belangrike vrae wat beantwoord moet word om die eerste mense toegerus te kry wat na die Rooi Planeet wil verhuis.

Die projek word uitgevoer deur ’n aantal uitgesoekte mense en private borge wat saamspan om die sowat 200 mense se sending moontlik te maak.

’n Woordvoerder van die sending het gesê hulle besef die verantwoordelikheid waarmee die projek aangepak word, want dit vorm deel van die mens se hunkering om die ruimte te verken.