Steeds onsekerheid oor Zuma

Daar is steeds onsekerheid oor die posisie van die Suid-Afrikaanse staatshoof, Jacob Zuma, se posisie.

Die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) het tot in die middernagtelike ure vergader om ‘n besluit te neem oor Zuma.

Onbevestigde berigte lui dat die NUK na ‘n vergadering van 13 ure besluit het om Zuma te herroep, ten spyte daarvan dat daar skynbaar steeds meer steun in die NUK vir Zuma is as wat verwag is. Dit kan die ANC weer eens diep verdeel en die moontlikheid van die stigting van ‘n nuwe party deur Zuma lojaliste, word nie uitgesluit nie.

Die ANC se president, Cyril Rmaphosa, het die NUK se besluit aan Zuma gaan oordra. Dié het gevra om nog drie maande in sy pos aan te bly. Politieke ontleders glo dit is sodat hy die kerntransaksie met Rusland kan finaliseer en daaruit nog ‘n aansienlike geldjie in sy eie sak kan druk.

Ramaphosa het Zuma se versoek weer aan die NUK oorgedra, wat dit van die hand gewys het.

Daar is egter nog geen formele aankondiging gemaak nie, en dit is onduidelik wie Zuma se plek as staatshoof gaan inneem tot en met volgende jaar se algemene verkiesing nie.