Spesiale rubriek – Op die volksakker – die betekenis van 8 Februarie 2017

Sedert 27 April 1994 kon baie mense vir hulleself lieg, het politici vir belastingbetalers gelieg en het sogenaamde “opposisie” partye verseker dat die geringste geleenthede tot volksvryheid die Afrikaner ontneem word.

Gedurende die jare is ons volk wysgemaak dat die “regstaat”, aan die hand van ʼn “model-grondwet” wet, orde en geregtigheid sal laat seëvier.

Die nuutste verwikkelinge is dat die staatsrede ter elfder ure uitgestel word, hangende onderhandeling vir ʼn “waardige uittrede” vir Zuma.

Terwyl ons in Zuma gebuk gaan onder rampspoedige rampokkery, bring hierdie verwikkelinge etlike vrae van wesensbelang na vore:

Wat impliseer hierdie proses vir ʼn Ramaphosa-regering?

Dit is belangrik om te onthou dat hierdie is bloot ʼn kosmetiese verandering – die regerende party, met sy verskanste rassehaat, korrupte kultuur en wraaklus bly dieselfde.

Deur selfs net melding te maak van ʼn “waardige uittrede” het die Ramaphosa-leierskap ʼn streep getrek deur gelykheid voor die reg, verantwoordbaarheid vir misdaad gepleeg deur uitgesoekte persone en enige aanspraak op onskuld aan die Zuma-vergrype.

Dit is dus duidelik dat maghebbers die waarheid van wie almal sedert 1994 bevoordeel is, wil geheim hou.

Wat leer dit van politici?

Vir die politici is eiebelang steeds bepalend. Dit is insiggewend dat geen party aandring dat die parlementêre aanklagte (om Zuma in ʼn staat van beskuldiging te plaas) voortgaan nie.

Weer eens maak dit korte mette van die mitiese “regstaat” en gelykheid voor die reg.

Dit spreek ook van die inherente gebrek aan integriteit wat hedendaagse politiek kenmerk.

Wat leer ons uit die openbare reaksie?

Dat hedendaagse mense inderdaad funksioneer sonder om te dink!

Uiteindelik bevestig dit die tragiek dat nasies verkry die leiers wat hulle verdien.

Ongelukkig geld hierdie beskuldiging baie (sogenaamd) “volksgenote”, wie sedert 1992 stem gedagtig aan hul eie materiële voordeel.