Slaaiburnet / Sanguisorba minor

 

Die slaaiburnet is in die familie Rosaceae, die rang is Rosales en die spesie is S. Minor. Sanguisorba minor is ‘n immergroen plant en is inheems in Europa, Noordwes Afrika en Suidwes Asië. Die jong blare van die plant is eetbaar en verskaf ‘n komkommeragtige geur in slaaie en slaaisouse, soppe en olies. Gebruik egter net die nuwe vars blaartjies vir die beste smaak in geregte. Dit kan fyn gekerf word en getrek word in kookwater om soos ‘n tee te drink.

Slaaiburnet groei in droë graslande en veral in kalkryke grond. Dit is droogtebestand en kan in enige seisoen geplant word. Plant hulle in volson, maar dit sal oorleef in gedeeltelike skadu. Hulle hou ook van sanderige grond en vereis nie te veel water nie. Hulle vereis ook nie baie aandag nie.

Hierdie is laaggroeiende plante en maak nogal ‘n mooi bos met langerige takkies met die getande blaartjies wat so twee-twee langs mekaar teen die dun stammetjies groei. Dit kan tot 90 cm hoog word. Hulle word 30 tot 60 cm wyd en groei ook nie te stadig nie.

Slaaiburnet kan sommer tussen ander tuinplante in beddings as ‘n randplant geplant word en dit vertoon altyd pragtig groen. Die blaartjies en die stammetjies is heldergoen. Hierdie plante dra ook blommetjies in trossies wat pers tot pienk is. Die blommetjies is nie indrukwekkend nie.

Tuiniers geniet u tuin tot volgende keer.