Russiese verkiesing sal verbeeldingloos wees

Terwyl die Kremlin se mondstukke beweer dat president Vladimir Poetin meer as 70% steun geniet onder die kiesers, beweer die opposisieleier dat die president minder as 50% steun geniet.

Die opposisieleier,  Alexei Navalny, is uitgeskakel as kandidaat vir die komende presidentsverkiesing nadat die polisie hom in hegtenis geneem het weens beweerde korrupsie.

Navalny is egter in hegtenis geneem vir sy organisering van straat optogte in Moskou en in ander stede van Rusland, en waarnemers meen dit is gedoen om die dalende aansien van president Poetin te verberg.

Navalny het in ’n onderhoud met ’n Europese koerant gesê die president het nie soveel steun as wat beweer word nie, en die presidentsverkiesing van 18 Maart sal dit bevestig.

Hy het ’n oproep tot kiesers gedoen om die verkiesing te boikot, maar kenners is dit eens dat so ’n stap moontlik tot voordeel van die president kan wees.

Met weinig opposisie tydens die verkiesing, sal dit waarskynlik ’n verbeeldinglose verkiesing wees waar die kleiner opposisiegroepe se teenstem geen noemenswaardige uitwerking sal hê nie.

Politieke ontleders sê president Vladimir Poetin sal weereens gemaklik as oorwinnaar seëvier, wat hom ook een van Rusland se mees roemryke heersers maak.

Die Russiese kieswet verbied enigiemand om as kandidaat te staan indien so ’n kandidaat skuldig bevind is aan ’n misdryf, soos wat die geval is met die opposisieleier Navalny.

Foto – President Vladimir Poetin