Russe ontplooi kernmissiele by Baltiese See

Die Kremlin het bevestig dat hy sy soewereiniteit beskerm deur kernmissiele te ontplooi op Russiese grondgebied naby die Baltiese See.

Die Russe het die optrede as noodsaaklik gesien nadat die Amerikaanse president gesê het die VSA gaan sy kernwapenprogram opgradeer.

’n Woordvoerder van Rusland het gesê dit staan Rusland vry om wapens te ontplooi soos dit nodig mag wees op sy eie grondgebied.

Onbevestigde berigte dui daarop dat Moskou Iskander missiele met kern-kop moontlikhede ontplooi, wat hewige reaksie ontlok het van naburige lande en Navo-lidlande.

Die missiele word by Kaliningrad ontplooi wat by die Baltiese See is, maar wat ontsteltenis veroorsaak by die regerings van Pole, Litaue en Estland.

Intussen het Rusland nie gereageer op die beswaar van Europese lande nie, behalwe om te wys daarop dat hy geregtig is om enige soort wapen op sy eie grondgebied te ontplooi, waar en wanneer hy dit goedvind.

’n Navo woordvoerder het gesê die ontplooiing van kernmissiele in Rusland sal nie die spanning met Europa verlig nie, en kan nie goed gepraat word nie.