Ramaphosa ontken amnestie vir Zuma

Die nuwe ANC president en aspirant president van die land, Cyril Ramaphosa, het die ANC se LP’s in die koukus die versekering gegee dat hy nie besig is om enige ooreenkoms met die sittende staatshoof, Jacob Zuma, aan te gaan wat Zuma sal vrystel van vervolging nie.  Hy sê hy het nie die gesag om so ‘n ooreenkoms aan te gaan nie.

Politieke ontleders is bekommerd dat hy met woorde speel en dat die regering moontlik wel die vryskelding kan gee.

Die Nasionale Vervolgingsgesag moet binne die afsienbare toekoms besluit of hulle die 783 klagtes van korrupsie en geldwassery teen Zuma gaan herinstel.

Volgens bronne het Ramaphosa wel aangetoon dat Zuma binnekort sal uittree as president van die land, maar daar word nie ‘n datum aan die “binnekort” gekoppel nie.

Afrika-tyd het geleer dat dae later maande word en maande jare voor daar iets gedoen word aan ‘n saak.  Zuma het intussen gesê hy sal uittree as dit reën in die Kaap.  Die naweek word reën voorspel vir Kaapstad maar dit is algemeen bekend dat Zuma nie ‘n man van sy woord is nie.

Skynbaar is die oponthoud te wyte aan die voorwaardes vir Zuma se uittrede. Volgens die pensioen voorwaardes kan Zuma twee afhanklikes deel maak van sy pensioen, maar dit is bekend dat hy heelwat meer vroue het. Hy wil skynbaar vir almal van hulle pensioen voordele beding, waarvoor die belastingbetalers moet opdok.

Verder wil Zuma ook hê dat die belastingbetalers moet instaan vir sy regskoste ingeval hy voor die hof gebring gaan word.