Na Zuma, wat nou?

Die verleentheid van Suid-Afrika, het sy goed gevat en geloop. Jacob Zuma is nie meer staatshoof van die land nie.

Die hele aanloop tot sy in wese gedwonge bedanking, nadat die ANC hom eintlik maar afgedank en in die steek gelaat het, was baie interessant.

Die een oomblik het ‘n groot klomp van sy lojaliste hom nog “Hosanna!” toegeroep. Nie te lank daarna nie, draai hulle hul seile na die wind van die nuwe leier en skree ewe hard: “Kruisig hom!”.  Dit is ‘n sterk aanduiding van die lojaliteit wat in die ANC en onder sy lede bestaan, en is ‘n aanduiding van hulle absolute onbetroubaarheid. As hulle dit doen, eers met Thabo Mbeki tien jaar gelede, en nou weer met Jacob Zuma, hulle eie mense, moet ons deeglik kennis neem van hulle onbetroubaarheid in oortreffende trap teenoor die Afrikaner.

In sy bedankingstoespraak het Zuma nog vir oulaas ‘n bietjie gal gebraak teen die blankes van die land, wat kwansuis “alles” besit, en verwys na die tydperk van “wit brutaliteit”. Sy ware kleure het dus reg teen die einde weer eens sterk en duidelik deurgekom.

Toe Zuma gekies is as president, was daar onder baie Afrikaners ‘n verwagting. “Hy is ‘n Zoeloe. Ons kan met Zoeloes oor die weg kom”, was van die positiewe gedagtes wat geuiter is. Zuma het voor sy aanstelling as president, selfs verskeie kere Afrikaners bymekaar getrek en met hulle gesels. Selfs TLU SA se leiers is na sy huis genooi vir bepaalde gesprekke. Daar was dus iewers hoop dat Zuma “ons verstaan”.

Toe die presidensie se deur agter hom toeslaan, het hy die sleutel omgedraai en Afrikaners was vergete, en het hy begin saamskree in die koor van radikale ekonomiese transformasie, sodat blankes moet gee aan ander wat nie kan of wil werk nie.

Sedertdien het hy van die een skande in die ander geval: bewerings van verkragting teen hom, selfverryking by Nkhandla, die Gupta-vriendskap, wanbestuur, korrupsie, wapenskandaal, kernkragskandaal en talle ander.

Nou is hy weg, en ons is uiteraard bly dat hy weg is, en ons hoop dat hy die res van sy lewe in howe en tronke gaan deurbring.

Dit maak ons egter nie skielik hoopvol vir die toekoms nie. Ons moet leer uit die geskiedenis van Zuma: almal het na hom opgekyk, hy gaan beter wees as Mbeki, en hy sou ons verstaan.

Dieselfde klanke klink op oor Ramaphosa: hy gaan beter wees as Zuma, hy verstaan die ekonomie en hy is meer van ‘n kapitalis, en hy praat soms selfs Afrikaans, en hy is ten minste geen Xhosa nie…

Die Boere-Afrikanervolksraad het reeds etlike jare gelede met hom ‘n gesprek gehad oor Afrikanerselfbeskikking. Hy het die Volksraad heel beleefd te woord gestaan en hulle beleefd na die warmplek gestuur, met sy gebruiklike diplomatieke vaardighede. Sedertdien kon die Volksraad nog nie weer met hom in kontak kom nie, ten spyte van ‘n onderneming van sy kant vir ‘n opvolggesprek. Hy het dus reeds sy woord gebreek teenoor ons mense en maak hom dus onbetroubaar.

Ramaphosa het ryk geword deur gebruik te maak van die onbillike bevoordeling van sogenaamde Swart Ekonomiese Bemagtiging. Maar met sy beursie vol en waarskynlik stewige bankrekeninge in die buiteland, het hy inderdaad nie nodig om, soos Zuma, die staatskas leeg te roof nie. Dit beteken egter nie dat hy daarom die ANC se beleid van herverdeling, ekonomiese transformasie, grondhervorming en sosiale transformasie gaan laat vaar nie. Inteendeel, die verwagting is dat hy dit met bekwaamheid gaan versnel, wat beteken dat hy vir die Afrikaner selfs slegter nuus is as Zuma.

Verder is hy gebonde aan die ANC se beleid. Al is Zuma uit, is die ANC beleid steeds stewig in die saal, en dit is ‘n Afrikaner-vyandige beleid.

Laat ons dus nie naïef wees en dink die na-Zuma-era gaan vir ons ‘n verbetering wees nie. Dit gaan nie!