Motorrubriek – Opel Crossland X

Die nuutste toevoeging tot die sportnutsmotor mark is die Opel Crossland X reeks. Daar is vier verskillende modelle beskikbaar waarvan die Crossland X die basiese model is maar dit beteken nie dat dit afgeskeep is nie.

Dit is 4,2 meter lank en het ‘n wiel basis van 2,6 meter en in vergelyking met ander voertuie in die B-klas is dit die grootste. Dit pas in die gleuf in net kleiner as die Mokka X. Dit was moontlik om die voor en agter oorhang kort te maak en die nader hoek ten tye van parkering, is baie gerieflik.

Die drukvlerk op die agterkant vorm deel van die dak en gee ‘n vloeilyn wat die agterkant van die voertuig beklemtoon. Dit tesame met die agterligte wat hoog gemonteer is, vorm weer deel van die hoofligte wat ook redelik hoog bokant die padoppervlakte gemonteer is en ‘n vloeiende sy kantlyn beklemtoon.

Stewige swart plastiek afwerking is reg rondom die voertuig aangebring om beskerming te verleen teen moontlike beskadiging deur byvoorbeeld klippe wanneer daar op grondpaaie gereis word. Wanneer die voertuig jou nader of vertrek is dit duidelik sigbaar want die sierrooster  aan die voorkant trek dadelik aandag en aan die agterkant sorg die silwer kleurige plastiek afwerking aan die onderkant dat dit duidelik sigbaar is.

Die motor se kragbron is ‘n drie silinder 1,2 liter petrol enjin en dit is met of sonder ‘n turbo aanjaer beskikbaar. Die 1,2 liter enjin waarin ‘n turbo aanjaer aangebring is, lewer 81 kW en die wringkrag is 205 Nm. Drie van die modelle is slegs beskikbaar met ‘n vyfspoed handratkas terwyl in die Cosmo reeks is dit verkrygbaar met ‘n sesspoed outomatiese ratkas.

Sover as die onderstel en suspensie aanbetref word oud beproefde stelsels gebruik en vir die voorste suspensie word MacPherson stutte gebruik terwyl die spiraalvere van so ‘n aard is dat die rit met die Cosmo baie gerieflik maar tog ook sportief is. Aan die agterkant word gedeeltelike onafhanklike veringstelsel gebruik en daar kan ‘n keuse uitgeoefen word of 15 duim of 17 duim wielvellings gepas moet wees. Die stuurstelsel is ‘n elektries ondersteunde stelsel en die draai sirkel is slegs 10,7 meter en dit is dus maklik om die voertuig te parkeer by die skoolterrein, besigheidsentrum of in ‘n parkeerterrein.

In hierdie model is daar verskeie handige stukke toerusting gemonteer. LED dagligte, hoofligte wat outomaties aanskakel, verkeersteken herkenning toerusting, ses lugsakke om ten tye van ‘n botsing die insittendes teen beserings te beskerm en nog talle ander handige stukke toerusting. Alle modelle het sewe duim aanraakskerms om die verskillende stelsels te beheer maar die mees luukse motor het ‘n agt duimskerm wat gebruik kan word. Alle ander standaard toerusting soos ‘n radio, lugversorger ensovoorts is geïnstalleer om die rit gerieflik te maak.

Wanneer u ‘n nuwe motor wil aanskaf kan u gerus die Opel Crossland op u inkopielys plaas vir oorweging.