Wêreld Nuusflitse – 21 Januarie

Australië

Honderde mense is inderhaas gered uit ’n nasionale park ten suide van die Australiese stad Sydney toe ’n veldbrand meer as 6 000 hektaar van die park se 15 000 hektaar verwoes het.

 

Brittanje

Die Britse eerste minister het ’n staatsekretaris aangestel om op ’n doeltreffende wyse om te sien na ouer mense wat in die land vereensaam raak, en met die opdrag om projekte in werking te stel om die alleenheid teen te werk.

 

VSA

Niemand was bereid om meer as die reserweprys van $10 miljoen aan te bied op ’n veiling waar die luukse en gerestoureerde Mercedes-Benz van Adolf Hitler  aangebied is nie.

 

Frankryk

Bewerings word gemaak dat die Franse president, Emmanuel Macron, met sy sjarme probeer het om die Britse eerste minister, Theresa May, te oortuig om nie die Verenigde Koninkryk uit die Europese Unie te laat tree nie.