Welkom in 2018

So het die nuwe jaar aangebreek en is 2017 iets van die verlede. So snel die tyd ongenadig voort, en maak die almanak nie werklik voorsiening vir vertragings vir leiersverkiesings of afsterwe van geliefdes nie. Die klok draai en elke dag is een blokkie op die kalender doodgetrek en is daardie dag geskiedenis.

Dit voel soos gister dat die groot eeuwisseling plaasgevind het met die vrese dat die tegnologie dit nie kan hanteer nie en dat selfs vliegtuie uit die lug sal val. Dit het nie. Nou is ons al weer 18 jaar verder en die sogenaamde Y2K het nie juis iets opgelewer nie.

Wel het die wêreld in sekere sin verander. Konvensionele oorlog maak al hoe meer plek vir terrorisme, alhoewel Suid-Afrika al terrorisme beleef het met die Kerkstraatbom en ander walglike dade deur die ANC gepleeg.

Maar die reis met tyd is een van daardie reise wat ons nie kan beplan nie. Daardie reis sleep ons mee tot hy ons aan die einde daarvan verlaat, en al sou ons as individue nie meer daar wees nie, gaan die almanak en die reis van tyd genadeloos voort.

Al wat dan saak maak, is welke nalatenskap ons agtergelaat het. Gaan ons iewers onthou word vir iets wat ons aan ons familie of ons volk nagelaat het? Of gaan ons nageslag soos dié van ‘n Jacob Zuma een of ander tyd maar met die hande voor die oë moet staan en erken dat hulle pa ‘n voortvarende land omvorm het tot ‘n ekonomiese, maatskaplike en rassistiese moeras?

Dit is dalk die enigste nuwejaarsvoorneme wat ons moet hê: gaan kyk watse bydrae ons vir ons volk kan lewer hierdie jaar. ‘n Bydrae wat ‘n verskil gaan maak aan ons kinders en kindskinders se toekoms. Ons durf nie ons tyd met die almanak af te sluit met net leë blokkies wat agtergelaat word nie. Daardie blokkies moet daagliks, weekliks en maandeliks gevul wees met volksdiens en ywer vir ‘n eie bedeling vir ons eie, maar as ons dit nie sou beleef nie, dat ons kinders eendag met trots kan sê dat hulle voorouers geswoeg het vir die bedeling waarin hulle veilig kan leef met hulle eie identiteit, kultuur en geloof.

Mag dit elkeen se reis wees vir 2018, en mag ons mekaar ondersteun sodat ons ‘n onbreekbare geestelike ketting vorm wat ook nie deur Cyril Zuma gebreek kan word nie. Sterkte en voorspoed daarmee!