Waar gaan ons kinders heen?

Die eerste matriekuitslae het bekend geword en leerlinge van die Onafhanklike Eksamenraad het goed presteer. Van hulle het meer as 88% universiteitsvrystelling gekry.

Nou moet die grootste klomp uitslae nog kom van die openbare skole wat die staat se swakker standaard Umalusi-eksamen geskryf het. Dit is reeds jare lank bekend dat standaarde daar afwaarts aangepas word sodat die druipsyfer kunsmatig laag gehou word. Ook is dit so dat Afrikanerkinders skitter met hulle talle onderskeidings, en wat dus almal universiteitstoelating kry.

Die vraag is nou net waarheen hierdie Afrikanerkinders gaan vir verdere opleiding?

In die doodsnikke van verlede jaar het die Grondwetlike Hof bevind dat die Universiteit van die Vrystaat heeltemal reg optree deur Engels as enigste onderrigtaal te gebruik. Dit gaan beslis deur anti-Afrikaanse aktiviste gebruik word as ‘n presedente uitspraak wat gebruik gaan word om alle universiteite eentalig engels te maak. Potchefstroom, wat tans deur baie gesien word as die laaste bastion vir Afrikaanse onderrig, sal nie staande kan bly nie.

Daar kan dalk geargumenteer word dat dit nie te erg is dat, nadat kinders hulle skoolloopbaan in moedertaalonderrig deurgegaan het, hulle op tersiêre vlak blootgestel word aan Engels nie.

Al sou daar dalk ‘n mate van meriete in daardie jellie-argument is (wat ons glo nie die geval is nie), het daar nou ‘n bykomende probleem opgeduik: Jacob Zuma se gratis tersiêre onderrig, en Julius Malema wat Zuma se onbesonnenheid met beide hande aangegryp het om voornemende studente op te sweep om onaangekondig by universiteitshekke op te daag. Boonop het Malema belowe dat sy rooipetbrigade die hekke sal beman om toe te sien dat nie net die sogenaamde ryk studente toegelaat word nie.

Ons kinders wat wil gaan studeer, gaan vanaf dag een met geweldige intimidasie te doen kry, wat hulle veiligheid kan bedreig. Dit hou egter nie op by die eerste dag van registrasie nie, want ons het al gesien hoedat swart studente wit studente uitdaag, en in gevalle, soos by Kovsies en Pukke, het die twee rassegroepe al lynreg teenoor mekaar gestaan in ‘n dreigende konfrontasie. Dit gaan vererger nou.

Dus doem die vraag weer op: waar gaan ons kinders heen?

Daar is wel die moontlikheid van afstandonderrig deur bepaalde kolleges, maar dit sluit meesal nie graadstudies in nie. Daar is Soltec, waar bepaalde ambagte aangeleer word, wat goed is. Die AP Akademie, lei lank nie net meer predikante vir die AP Kerk op nie, maar bied ook onderwysgrade aan, en saam met TLU SA werk hulle aan ‘n landbou-leerstoel wat ons jong boere kan oplei.

Maar nie al ons kinders wil boere, onderwysers of ambagsmanne word nie, en van hulle wil ook graag goeie regsgeleerdes, dokters, veeartse of ingenieurs word.  Nie almal het die geld om oorsee te gaan studeer nie, want alhoewel die rand dalk wel die afgelope weke verbeter het teenoor buitelandse geldeenhede, is hy steeds pateties laag en maak dit enigiets in die buiteland byna onbetaalbaar duur.

Dit laat ons dus in die dilemma van wat met ons kinders gaan gebeur.

Natuurlik kan ons begin werk aan ‘n eie universiteit, maar die sal steeds staan onder die wette en regulasies van die ANC-bewind, wat met die Grondwethof uitspraak in sy sak, alles gaan doen om ons eie Afrikaanse instellings te frustreer en te “transformeer” tot koloniale Engelse instellings met hulle ondergraadse leerplanne.

Hierdie situasie kan uiteindelik net opgelos word as selfbeskikking vir die Afrikaner erken en uiteindelik verwesenlik word. As Afrikaner selfbeskikking voorlopig net eers erken sou word deur die owerheid en internasionale regerings en instellings, sal dit groot vordering verteenwoordig, maar dit moet ondersteun word deur elke Afrikaner op grondvlak.