Vlaamse minister beveg IS met Koran

Die dinamiese minister van binnelandse sake in Vlaandere, Liesbeth Homans, het besluit om die Islamitiese Staat (IS) te beveg met die inhoud van die Koran.

Homans is ’n minister van die konserwatiewe party, Nuwe Vlaamse Alliansie  (N-VA) en wil met die samewerking van teoloë, boodskappe versprei wat aanhalings bevat wat uit die Koran geneem is, en dit kan die radikale programme van die terroriste veroordeel.

Kenners wys daarop dat die verspreiding van boodskappe wat uit die Koran aangehaal word, dit die IS terroriste moeilik kan maak om hulle wreedaardige optrede geregverdig te kry, en sal mense ontmoedig om by die ekstremistiese beweging aan te sluit.

Minister Homans sê die alternatiewe stemme moet gehoor word, maar tot hede is daar te weinig teenreaksie om die terreurgroep te bestry.

Die minister het 438 000 euro beskikbaar gestel uit haar departement om die projek te finansier, en sal ook  die Koran-deskundige, Mehdi Azaiez, inspan om in die projek betrokke te raak.

Ontleders meen die nuwe denkrigting kan ’n besondere groot rol vervul om terreuraanslae in Europa te verminder, en behoort deur ander Europese lande nagevolg te word.

Foto – Minister Liesbeth Homans