Vir wie lieg Cyril?

Lieg die nuwe president van die ANC, en as dit so is, vir wie lieg hy nou eintlik? Is dit vir die ryk beleggers, of vir die blanke boere, of is dit vir sy eie ondersteuners?

Hy sê die grondgryp gaan ’n paradys skep, en dan plaas hy ’n klein, ’n baie klein suikerklontjie in die mond van potensiële beleggers deur by te voeg dat dit net nie die ekonomie moet skaad nie.

Hy sê drie dinge: Hy gaan grond by boere vat sonder om hulle te vergoed daarvoor – dit is diefstal en hy behoort dit te weet.

Dan sê hy dit sal gedoen word maar op so ’n wyse dat dit nie die ekonomie nadelig raak nie – en daarop is geen kommentaar nodig nie, want as hy die grond op so ’n wyse wil steel, gaan dit die ekonomie benadeel – en baie ernstig benadeel!

Maar hy sê indirek nog iets – hy is bereid om soos ’n dief, grond te vat soos Mugabe gedoen het, maar dit moet nie die ekonomie skaad nie, wat beteken hy gaan swartes kry wat net so goed kan produseer as die blanke boer, en daardie swarte gaan die grond kry, want dit sal nie die ekonomie skaad nie!

Ons het ’n meer slinkse president aan die kom as die een wat tans met grasie die korrupsie-vlam hoog hou in die byna bankrot Suid-Afrika.

En dan is daar mense wat dink Cyril gaan beter doen as Jacob – die antwoord is eenvoudig: Van sleg tot slegter!

Fred Schoeman