Verslag: Op pad na Mars

Die man wat agter die projek staan om ’n permanente kolonie op die Rooi Planeet Mars te vestig, sê hy hoop mense sal die pioniers wat daarheen verhuis het, goed onthou vir hulle daadkrag.

Hy glo dat Mars die halfwegstasie na die planeet Venus sal wees, of dat daar besoek gebring kan word aan een van die 69 mane by Jupiter.

Bas Lansdorp sê hy is oortuig daarvan dat sy “Mars Een” sending waar mense met ’n enkel kaartjie gaan reis na Mars, in 2031 werklikheid sal word.

Die proses om 100 mense uit te kies wat as suksesvolle kandidate in die 200 vierkante meter kapsule moet bly vir die ses maande, om ’n behoorlike keuring te doen, het glo reeds begin.

Die bedoeling is om ’n permanente kolonie te vestig op Mars, en die reisigers daarheen het geen kans om terug te keer na Moeder Aarde nie.

Die groot oppervlakte gevriesde watermassa is glo ’n teken dat lewe aldaar moontlik is, en die koloniste sal hulle eie groente moet kweek met ‘n voorraad saad wat saamgestuur word.

Tot hede is meer as 200 000 aansoeke ontvang, wat die kies bemoeilik, maar wat die verskillende kundigheidsvlakke vergroot.

Om die enorme windstorms die hoof te bied, sal die aanplantings goed beskerm moet word, en sal die rooi sand en grond gebruik moet word om woonplekke op te rig.

Uit die 100 finaliste sal vier mense, mans en vroue, uiteindelik aangewys word vir die reuse taak om die eerste “halfwegstasie” na die groter ruimte te probeer vestig.

Die vier sal vir ses maande ingehok wees in ’n klein kapsule om die lang tog af te lê van sowat 55 miljoen kilometer na hulle onherbergsame nuwe tuiste.

Daar aangekom sal hulle die massiewe stofstorms en sterk wind moet trotseer terwyl hulle met weinig voorraad voedsel tevrede moet wees, en gaan dit ’n uitdaging wees om die gevriesde waterbronne te benut.

Die beplanners wys daarop dat bad, en stort vir ten minste die eerste twee jaar nie moontlik sal wees nie, en dat die produksie van voedsel die eerste prioriteit sal wees.

Kommunikasie met die aarde sal per radio seine gedoen word, en so ’n sein kan tot 20 minute duur voor dit die aarde bereik.